Die Verenigde State se nuwe visumbeperkings is volgens sy ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, slegs die eerste stap in ’n reeks toenemende maatreëls teen Pretoria.
Bozell het dié waarskuwing uitgereik nadat die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, ’n nuwe visumbeleid aangekondig het. Dit is gerig op buitelanders wat volgens Washington verantwoordelik of medepligtig is aan onder meer rasgebaseerde diskriminasie, grondbeslaglegging sonder vergoeding of die aanhitsing van geweld teen minderhede in Suid-Afrika.
Die maatreël is nie ’n algemene visumverbod op Suid-Afrikaners nie.
“Hierdie visumbeperkingsbeleid is slegs die eerste stap in ’n reeks toenemende maatreëls wat Amerika se vasberadenheid in hierdie saak sal toon,” het Bozell gesê.
Hy het nie bekend gemaak wat die volgende stappe kan behels of wanneer dit ingestel kan word nie.
‘Tyd vir eindelose dialoog is verby’
Volgens Bozell het vorige gesprekke tussen die twee lande nie die resultate opgelewer waarop Washington gehoop het nie.
“Die tyd vir eindelose ‘dialoog’ het sy loop geneem. Nie meer nie. Amerika het net soveel geduld,” het hy gesê.
Bozell het gesê die VSA wil sterk en blywende betrekkinge met die Suid-Afrikaanse regering hê, maar dat Pretoria volgens hom nog nie gewys het dat hy dieselfde wil hê nie.
“As gevolg daarvan gaan die gevolge, soos ek keer op keer probeer verduidelik het, noodwendig ernstig wees,” het hy gewaarsku.
Afrikaners, grondbeleid en BEE in die visier
Rubio het gesê die Amerikaanse regering bly ernstig bekommerd oor wat hy beskryf as rasgemotiveerde misdaad en staatsgesteunde diskriminasie teen Afrikaners en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika.
Washington het onder meer beswaar teen Suid-Afrika se beleid oor breëbasis-swart ekonomiese bemagtiging (B-BSEB) en onteiening, asook retoriek wat volgens die VSA haat of geweld teen minderhede aanhits.
Bozell het reeds in Maart vyf kwessies uitgelig wat Washington met Pretoria wil aanspreek. Dit sluit die beskerming van landelike gemeenskappe teen geweld, die veroordeling van retoriek wat geweld aanhits, vergoeding by onteiening, sekere rasgebaseerde ekonomiese beleidsmaatreëls en Suid-Afrika se betrekkinge met Iran en ander Amerikaanse teenstanders in.
Hy het destyds gesê dié kwessies is volgens die VSA prakties oplosbaar en kan tot voordeel van albei lande wees.
Pretoria betwis Amerikaanse siening
Die Suid-Afrikaanse regering het die Amerikaanse vertolking van sy beleid voorheen verwerp.
Pretoria betwis onder meer bewerings dat Afrikaners stelselmatig vervolg of gediskrimineer word en het ook die Amerikaanse kritiek op sy onteienings- en rasbeleid teengestaan.
Die regering hou verder vol dat plaasmoorde deel vorm van Suid-Afrika se breër probleem met geweldsmisdaad en het sy beleid van nie-belyning in internasionale betrekkinge verdedig.
Bozell het intussen geen besonderhede verstrek oor presies watter verdere Amerikaanse maatreëls Suid-Afrika in die gesig kan staar nie.

