Vlieg, Vlug, of Vlugteling?

by | Apr 1, 2025 | Nuus | 0 comments

Volgens die nuutste inligting van The New York Times, gedateer 31 Maart 2025, het die Trump-administrasie se “Missie Suid-Afrika”-program, wat vlugtelingstatus aan wit Afrikaners uit Suid-Afrika bied, verdere vordering gemaak. Hierdie program, wat op 7 Februarie 2025 deur president Donald Trump se uitvoerende bevel van stapel gestuur is, fokus op die hervestiging van Afrikaners wat vlug vir regering-geborgde rassediskriminasie, insluitend die konfiskering van eiendom op grond van ras.

The New York Times meld dat die V.S.A, as deel van Fase Een, nou meer as 10,000 aansoeke van Afrikaners ontvang het wat in die Verenigde State wil hervestig. Spanne wat in Pretoria se tydelike vlugtelingesentrums werk – wat uit omgeskakelde kantoorruimtes bestaan – het reeds 150 Afrikaners goedgekeur vir moontlike vlugtelingstatus per 1 April 2025. ‘n Onlangse memo van die V.S.A ambassade in Pretoria aan die Staatsdepartement, gedateer einde Maart 2025, dui aan dat die administrasie teen einde April ‘n gedetailleerde plan sal voorlê vir die permanente hervestiging van hierdie goedgekeurde aansoekers.

Hierdie beleid bly in skrille kontras met die Trump-administrasie se algemene verbod op vlugtelinge uit lande soos Afghanistan, Kongo en Sirië, waarby sowat 20,000 mense geraak word wat voorheen gereed was om na die V.S.A te emigreer. Afrikaners bly dus ‘n uitsondering.
Die Suid-Afrikaanse regering het intussen die bewerings van sistematiese diskriminasie en grondonteiening teen Afrikaners kragtig ontken, en beweer dat die gronde vir hierdie program op onakkurate inligting rus.

Tog het die inisiatief ongekende belangstelling ontlok, met berigte wat nou skat dat meer as 75,000 Afrikaners belangstelling getoon het in die hervestigingsgeleentheid, wat die omstredenheid rondom dié beleid verder aanwakker.