TLU SA waarsku wetsontwerpe bedreig intellektuele eiendom en vryhede

by | Jun 5, 2025 | Nuus | 0 comments

Die Transvaal Landbou-unie Suid-Afrika (TLU SA) het skerp kritiek gelewer teen die ANC se voorgestelde outeursreg wysigingswetsontwerp en beskerming van voordraers wysigingswetsontwerp, wat volgens hulle neerkom op die nasionalisering van intellektuele eiendom. TLU SA se bestuurshoof, Bennie van Zyl, waarsku dat hierdie wetsontwerpe veral deur die beginsel van “regverdige gebruik” skeppers se regte sal ondermyn, vryhede sal inperk en ekonomiese produktiwiteit sal benadeel.

Die kern van die probleem lê by die “regverdige gebruik”-bepaling, wat toelaat dat kopiereg-beskermde materiaal sonder vergoeding gebruik word in sekere gevalle, soos vir opvoeding of satire. TLU SA argumenteer dat hierdie vae en buigsame benadering die staat of ander partye in staat stel om kreatiewe werk te ekspropriëer, wat direk indruis teen private eiendomsreg. Dit bedreig skeppers, soos kunstenaars, skrywers en uitvinders, se vermoë om inkomste uit hul werk te genereer, aangesien hul intellektuele eiendom sonder vergoeding gebruik kan word. 
Hierdie verlies aan beheer kan innovasie ontmoedig en lei tot ‘n uitstroom van intellektuele kapitaal uit Suid-Afrika, aangesien skeppers hul bates na lande met sterker beskerming verskuif.Verder meen TLU SA dat die wetsontwerpe in stryd is met internasionale verdrae, soos die Berne-konvensie en TRIPS-ooreenkoms, wat minimum standaarde vir outeursregbeskerming vereis. ‘n Te liberale regverdige gebruik-bepaling kan Suid-Afrika se internasionale handelsverhoudings benadeel, aangesien skeppers en maatskappye moontlik sal weier om in ‘n land te opereer waar hul regte nie gewaarborg is nie. Dit sal ekonomiese groei verder kniehalter.Van Zyl waarsku ook dat die wetsontwerpe ‘n sosialistiese agenda weerspieël, waar produktiwiteit gestraf en onproduktiwiteit beloon word. 
Deur skeppers se vryheid om hul werk te beheer en te monetiseer in te perk, word entrepreneuriese inisiatief en individuele vryheid bedreig. TLU SA vrees dat hierdie maatreëls, gekoppel aan ander beleide soos grondonteiening, ‘n klimaat skep waar private eiendom en ekonomiese vryheid sistematies ondermyn word, wat Suid-Afrika se mededingendheid en kreatiewe industrieë ernstig kan skade aandoen.