Huldeblyke stroom in ná die afsterwe van Leonora (Leo) van den Heever, ’n baanbreker in die Suid-Afrikaanse regswêreld en die eerste vrou wat ooit in die appèlhof gedien het. Van den Heever is Donderdag in die ouderdom van 99 in haar huis in Oranjezicht, Kaapstad, oorlede.
Die regbank beskryf haar loopbaan as een van uitsonderlike moed, deursettingsvermoë en beginselvaste toewyding. “As baanbreker het sy deure vir vroue op die regbank oopgemaak en haar nalatenskap leef voort in die vele wat in haar voetspore volg,” lui een huldeblyk.
Van den Heever is in 1926 in Windhoek gebore en het haar skoolloopbaan aan die destydse C&N Meisieskool Oranje in Bloemfontein voltooi. Sy het daarna aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar sy haar BA- en MA-grade cum laude verwerf het. In 1951 voltooi sy haar LLB aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
In 1952 sluit sy by die balie in Bloemfontein aan en word in 1968 senior advokaat. Haar loopbaan bereik ’n historiese mylpaal toe sy as die eerste vroulike regter in Suid-Afrika in die Noord-Kaapse afdeling van die hooggeregshof aangestel word. In 1991 word sy die eerste vrou wat in die appèlhof dien.
Van den Heever se uitsprake was bekend vir hul skerpsinnigheid, onafhanklikheid en onwrikbare respek vir die wet. Sy het self hoë standaarde gestel en streng maar regverdig opgetree. Sy het ’n besondere bydrae gelewer tot die interpretasie van die Wet op Egskeiding, waarin sy duidelik beklemtoon het dat ’n egskeiding slegs toegestaan kan word wanneer die huwelik onherroeplik verbrokkel het.
Buite haar regswerk het Van den Heever ook ’n betekenisvolle kulturele nalatenskap opgebou. Sy het kinderboeke, kortverhale en literêre bydraes gelewer, en was aktief in kulturele rade, poësie en die kunste. Sy is met talle eerbewyse vereer, insluitend ’n eredoktorsgraad wat haar toewyding aan geregtigheid en billikheid erken het.
Die hoofregter van Suid-Afrika, Mandisa Maya, het haar medelye aan die familie betuig: “Ons regbank treur saam met julle. Mag ons voortgaan om haar onkreukbare karakter en haar geloof in die rol van die reg in ons samelewing na te streef.”
Mmamoloko Kubayi, minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, het Van den Heever se rol as baanbreker geloof: “Sy het die weg gebaan vir generasies vroue op die regbank. Haar nalatenskap van integriteit, durf en toewyding sal voortleef.”
Van den Heever laat drie dogters, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders agter, terwyl ’n derde agterkleinkind op pad is. Die familie beplan ’n private diens.

