Die plan se kernpunte fokus op staatsgedrewe ingryping, wat konserwatiewe waarnemers met argwaan bejeën. Eerstens word industriële groei beoog deur laer elektrisiteitstariewe en uitbreiding van Eskom se transmissienetwerk, ‘n direkte invloed op die kragkrisis wat die ANC self veroorsaak het. Tweedens moet Transnet se vragspoornetwerk herstel word, ‘n sektor wat jare lank onder korrupsie en onbevoegde bestuur gekreun het. Derde sluit dit, die herbou van chrome- en mangaan-industrieë in, met nuwe uitvoertariewe en beskerming teen goedkoop invoere, om uitvoere te ondersteun. Vierde beklemtoon dit die versterking van staatskapasiteit vir groot infrastruktuurprojekte, wat ironies genoeg die ANC se eie swakhede in openbare bestuur aanspreek.
Vyf en ses draai om plaaslike ontwikkeling in townships en landelike gebiede, sowel as die uitbreiding van openbare werkprogramme en ondersteuning vir klein en medium ondernemings. Sewe en agt is gerig op die versterking van provinsiale ekonomieë buite groot stede en die diversifisering van handel via die Afrika-Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA) en BRICS. Laastens sluit dit af met nege en tien: die vestiging van ‘n “Ekonomiese Oorlogskamer” in die Presidensie vir toesig, en die koördinering van begrotings en makro-ekonomiese beleid, insluitend professionele aanstellings in die openbare diens.
Vanuit ‘n konserwatiewe perspektief is die plan se swakpunte duidelik. Dit leun swaar op staatsintervensie, met min klem op private sektor-vryheid of fiskale dissipline – presies die resep wat Suid-Afrika se skuldlas na 75% van BBP opgestook het. Ramaphosa se belofte van “verdienstelike aanstellings” klink goed, maar kom ná jare van ANC-kaders, se ontplooiing in rampokker staatsondernemings soos Eskom en Transnet.
Die 3%-groeiteiken lyk onrealisties gegewe die ekonomie se 0,6% krimp in die laaste kwartaal, en sonder radikale hervormings soos belastingverligting vir besighede of deregulering, sal dit waarskynlik by vorige planne soos die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) verval.
Die “Oorlogskamer” kan ‘n goeie idee wees, maar as dit bloot ‘n nuwe laai vol bureakrate word, sal dit belastingbetalers se geld mors.
Kritici, insluitend opposisiepartye, noem dit ‘n desperate skuif voor die 2026-munisipale verkiesings, met min hoop op werklike verandering.
Terwyl Ramaphosa praat van “herstel”, bly die werklike vraag: Wanneer sal die ANC ophou om probleme te skep en begin om dit op te los? Sonder deursigtigheid en private vennootskappe, bly hierdie ‘n plan van papierdun hoop.

