Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê daar sal gevolge wees ná die departement se omstrede flater met sy konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie (KI).
Malatsi het die dokument die afgelope naweek teruggetrek nadat ’n interne ondersoek aan die lig gebring het dat verskeie aanhalings wat daarin gebruik is, nie bestaan nie.
Volgens die minister het die ondersoek bevestig dat KI-instrumente gebruik is tydens die opstel van die beleid, wat gelei het tot die insluiting van fiktiewe verwysings.
Hy het beklemtoon dat sulke nalatigheid nie geduld sal word nie en dat stappe geneem sal word teen die amptenare wat verantwoordelik was vir die samestelling en gehaltebeheer van die dokument.
Malatsi het gesê die voorval plaas die fokus op die noodsaaklikheid van behoorlike toesig en verifiëring wanneer nuwe tegnologieë soos KI in regeringsprosesse gebruik word.
Die departement sal nou die beleid hersien en verseker dat alle inhoud akkuraat en betroubaar is voordat dit weer aan die publiek voorgelê word.

