Frankryk ontken dat enige land, insluitend die Verenigde State, druk uitgeoefen het om Suid-Afrika se uitnodiging na vanjaar se G7-beraad terug te trek.
Die Franse minister van buitelandse sake, Jean-Noël Barrot, sê die besluit spruit uit Frankryk se eie beplanning en fokus vir die beraad. Volgens hom wou Frankryk eerder Kenia betrek as deel van voorbereidings vir ’n groter Afrika-beraad wat later vanjaar in Nairobi plaasvind.
Hy het ook aangedui dat Frankryk vanjaar ’n meer “gestroomlynde” G7-beraad beoog.
Die kwessie het opslae gemaak nadat president Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, vroeër gesê het die VSA het glo gedreig om die beraad te boikot indien Suid-Afrika wel genooi word.
Ramaphosa het egter later self gesê daar is geen bewys dat enige land druk op Frankryk uitgeoefen het nie.
Hy het ook die siening verwerp dat Suid-Afrika “afgejak” is.
“Daar is baie lande wat nie na die G7 genooi word nie, en Suid-Afrika is nie ’n lid van die groep nie,” het Ramaphosa gesê.
Hy het verder daarop gewys dat Suid-Afrika nie gereeld alle G7-berade bywoon nie, en dat dit dus nie ongewoon is dat die land vanjaar nie deel van die byeenkoms sal wees nie.

