Boere spring in om Villiers se paaie begaanbaar te maak

by | May 5, 2026 | Nuus | 0 comments

Die haglike toestand van twee sleutelroetes na Villiers en Qalabotjha in die Oos-Vrystaat het ’n ernstige knou toegedien aan plaaslike ekonomiese aktiwiteit, padveiligheid en dienslewering.
Die A123 wat vanaf die R26 loop, saam met ’n gedeelte van die S/1357 (De Beerstraat), is belangrike verbindingsroetes wat daagliks deur ligte voertuie, taxi’s en swaar vragverkeer gebruik word. Hierdie paaie dien boonop as ’n alternatiewe skakel vir verkeer wat die N3 tussen Gauteng, die Vaaldriehoek en die Oos-Vrystaat vermy.
Jare se onvoldoende instandhouding het egter sy tol geëis. Die teerpaaie is oortrek met diep slaggate en ongelyke oppervlaktes wat ry gevaarlik maak. Tydelike herstelwerk – soos om gate met grond te vul – bied slegs kortstondige verligting en word gou deur reënweer vernietig, wat lei tot voortdurende skade aan voertuie.
Die gevolge hiervan word wyd gevoel. Villiers sien minder besoekers oor naweke en sake-aktiwiteit neem af, terwyl plaaslike ondernemings sukkel om kop bo water te hou. Vir inwoners van Qalabotjha is die impak selfs groter, aangesien hierdie paaie hul enigste betroubare toegang tot die dorp vorm.
Dienslewering word ook direk geraak. Die plaaslike verkeerslisensiekantoor kan byvoorbeeld nie meer bestuurslisensietoetse aanbied nie weens die onveilige padtoestande, wat inwoners dwing om elders hulp te soek. Terselfdertyd staan sekere infrastruktuur leeg en verloor die dorp geleidelik sy rol as dienssentrum, met die sluiting van die poskantoor as verdere bewys van agteruitgang.
In ’n poging om die situasie self te verbeter, het plaaslike boere onlangs ingespring om dele van die pad rybaar te maak. Hoewel dit tydelik help, bly dit ’n noodoplossing wat nie die kern van die probleem aanspreek nie.
Die krisis is al lank aan die broei. So ver terug as 2017 het inwoners die ergste stuk pad sarkasties die “Ace Magashule-hoofweg” begin noem – ’n duidelike teken van hul frustrasie met jarelange verwaarlosing.
Plaaslike rolspelers beklemtoon dat dringende en volhoubare herstelwerk noodsaaklik is om veiligheid te herstel, voertuigskade te beperk en ekonomiese lewe terug te bring deur verkeer en besoekers weer na die gebied te lok.